2012/07/23

Die vlug na London

Ek het nounet totsiens gesê.  Almal is tranerig - ek sluk myne weg.  Is mos braaf...

Deur sekuriteit en paspoortkontrole; die liggies het geflikker en die alarm het geskree toe ek deur die kosyn-poort tree.  Na 'n vinnige ondersoek met 'n lang, plat elektriese yster kom hul agter dit is my juwele, of liewer, my baie beskeie ou horlosietjie wat ek vir my 21ste verjaardag by my ouers gekry het.  Diep asemteug...

Stadig stap ek in die eindelose gang af en kyk deur die glasvensters na die stikdonkerte daarbuite.  Die opgewondenheid borrel soos nuwe fonteinwater in my.  Ek het geen idee wat om te verwag in hierdie nuwe stap in my lewe nie.  Ek stap blind deur die nou spasie, vasgevang in my duister droomwêreld van prinse en prinsesse, nuwe lande, antieke kulture en die angstige dors na die onbekende.  My visie oor die toekoms is klokhelder, maar terselfdertyd net so duister soos die stikdonkerte daar buite.

En dan gebeur dit: 'n see van liggies helder die nag se stikdonkerte in 'n oogwink op.  Mense beduie, vliegtuie beweeg en bagasietrokkies sweef heen en weer oor die onsigbare, donker oppervlakte.  Die hele plek lewe!

Ek het nie baie lank gewag by hek A15 nie - die kaartjie sê A18, maar diè is Afrika - toe die mense skielik in hul massas toue begin vorm.  Ek werp my blik vinnig na die groot swart bord met die klein lettertjies.  Dit is my vlug.  Here we go...

Erm, nee, toe nou nie.  Hierdie ry beweeg geensins nie.  Ek het net so effens begin moed verloor en so begin-begin oorweeg om terug te draai en vir my 'n ou sitplekkie te gaan soek toe dit voel soos Johannesburg se verkeer op 'n Vrydagmiddag:  voetjie vir voetjie beweging!

Here we go!   Woohoo!

Die gesegde 'no pain, no gain' kry 'n nuwe betekenis vir my.  Nog nooit moes ek so lank stilsit nie!  Ongmaklik, met pynlike bene (van die beknopte spasie) en lam boude (van die holrug gevlieëde sitplek) probeer ek slaap.  Onsuksesvol.  My oogmasker het so tussendeur die ongemaklikheid my oog-area verlaat en ek kry dit nêrens nie.  Voel jou hier, voel jou daar en ek skrik my naar!  Dit waaraan ek nou trek is definitief NIE deel van my oogmasker OF bagasie nie.  Hmm, ek voel-voel om 'n beter bekendheid te verkry, maar ek kan nie...  Skielik verlaat die vreemde item my vingers en die man agter my gee 'n verwoede snork.  O, gonna!  Dit is sy groottoon wat ek beet het!  Ek bloos bloedrooi en loer omverskonend in sy rigting, maar tot my (uiterste) verligting slaap hy deur die hele debakel.  (Of miskien gee hy voor uit ordentlikheid om my die verleentheid te spaar...)
Ek gewaar iets uit die hoek van my oog onder die sitplek vòòr my.  Het hom!  Ek trek my maskertjie haastig oor my oë en maak of ek slaap.

Ek is vreeslik verveeld.  My boude is lam en ek is tot die dood toe moeg.  Kortom, ek is keelvol gevlieg en daar is nog 3 ure oor!  Dit is stikdonker onder my - ek kyk na die vliegroete op die skermpie voor my en dan weer na die donkerte onder my:  die Middelandse See.  Die opgewondenheid spoel weer saggies in my toe ek agterkom dat die stel liggies Nice in Frankryk kan wees! 
Dan word ontbyt bedien en ek mis Parys...  Ek kan dit nie glo nie!

Ladies and Gentlemen, welcome to Heathrow Airport.  We trust you've enjoyed your flight with us.  Please travel safely to your holiday destination.  If you are from London: welcome home.

Home.  Vir twee jaar.  Dit voel nogsteeds onwerklik.  Die wow-faktor het nogsteeds nie gaan lê nie.  Ek is besig om my droom uit te lewe.  Hier en nou.  My lewe het begin...